Hoekom het die Namas op 12 Augustus 1904 nog saam met die Duitsers teen die Herero’s geveg en teen Oktober van dieselfde jaar was hulle in ‘n volskaalse oorlog teen hulle, die Duitsers, betrokke?
Hierdie vraag is van die grootste belang. Hendrik Witbooi, sittend, sesde van links is immers deur sy vyand, goewerneur Leutwein beskryf as ‘n eerbare mens. Op die foto kan mens sien dat dit ‘n redelik gedissiplineerde groep “Withoede” was. Hulle lyk netjies. Almal het gewere. Heel regs voor staan ‘n Duitse soldaat. Hierdie was nie ‘n klomp “rag tag” boemelaars en opportuniste nie. Hoekom het hulle gerebelleer?
Die Namas en Herero’s het maar altyd hulle konflikte gehad en dat die Namas bereid sou wees om saam met die Duitsers die wapen op te neem is nie vreemd nie. Hoekom het hulle so dramaties en skielik besluit om teen die Duitsers te draai? Wat het verkeerd gegaan?
Onthou, dit was nie net ‘n skelm strooptog, of terroriste-aanval nie. Hendrik Witbooi het gekies om oorlog te maak. Hy het ‘n skriftelike oorlogsverklaring by die fort op Keetmanshoop laat aflewer. “Ek sal aan God hiervoor verantwoording moet doen,” eindig hy die verklaring.
Witbooi het geweet waarvoor hy hom en sy volk inlaat. Hoekom het hy gekies om dit te doen?
Ek het probeer om die vrae in “Die Keiservoël oor Namaland” op interessante, roman-matige, (ekskuus vir die lelike woord) maar akkurate wyse te beantwoord.