Dag 3: Die Skryf van “Die Keiservoël oor Namaland.”

Erfenisdag 2015: Ossewaens en die Keiservoël

Ossewa

Ek val oom Dicky vandag in die rede om te vertel van my wedervaringe en waarnemings by die vieringe van Erfenisdag by die Voortrekkermonument vanoggend. Ons sal weldra terugkom na oom Dicky toe.

“Die Keiservoël oor Namaland” is vol verhale en inligting oor ossewaens. Trouens, dit is een van die subtemas in die boek. Ek wou op subtiele wyse die rol van die ossewa in die ontwikkeling van die Afrikaanse taal illustreer. Ek gebruik idiome soos “oor die tou trap,” “skouer aan die wiel sit,” en “wa deur die drif trek,” in hulle oorspronklike ossewa-konteks, om die slim leser te herinner aan hierdie rol.

Ernst Luchtenstein en sy pa, die ou korrelkop Joseph, was ossewa mense, transportryers, wat die harde Namib en barre Kalahari moes trotseer om aan die lewe te bly. Duits Suidwes Afrika het sy bloeityd beleef gedurende die Nama-oorlog, net na die Boereoorlog. Baie Boere het juis Duits Wes toe gegaan om die Engelse juk (sien?) te ontsnap en ‘n nuwe lewe te maak, as transportryers met hulle ossewaens. Vroeër en later was daar ook die Dorslandtrekkers wat in en deur die land getrek het. Die ossewa-spore loop dik en wyd deur Namibië.

Ek het reeds jare gelede ‘n studie van ossewaens gemaak. Destyds het ek Philip Roux daar by dieselfde Voortrekkermonument ontmoet en saam ossewa gery. Ek het later ook gaan foto’s neem van die osse by Cullinan. Iemand het vir my my ‘n fotostaat afskrif van Bosman se kosbare “Die Verhaal van die Trekos” laat kry.

Ossewa2

Vanoggend het ek die voorreg gehad om die manne en vroue van die Trekboer Vereniging te ontmoet. Hulle is mense soos Hans Sturgeon, Herman Nel en Tinus Henning. Hulle doel is om die tegnologie en geskiedenis van die ossewa te bewaar. Hulle bou en restoureer ossewaens en teel en rig die osse af en bied ossewa-ritte vir die publiek aan.

Herman het vertel dat niemand in die wêreld weet hoe om die korrekte knoop met ‘n lunsriem te maak nie. Hulle maak maar so op hulle eie manier ‘n knoop:

Lunsriem

‘n Lunsriem is ‘n dun riem wat die luns in plek hou, en keer dat die wawiel van die as af val. Omdat die wawiel met ghries (eintlik Stockholm teer en partykeer vet) gesmeer word, is hierdie lunsriem altyd vuil. So het die uitdrukking dat ‘n vuil persoon ‘n lunsriem is, ontstaan.

Ossewa3

Môre vertel ek meer oor die vetsmeer en die teerputs, voordat ons terugkeer na oom Dicky.

2 thoughts on “Dag 3: Die Skryf van “Die Keiservoël oor Namaland.”

  1. Jy vat my gedagtes op ver paaie. Het as n dogtertjie, daar in die Swartruggens Bosveld, met n ossewa nagmaal toe gery. Gekamp by die kerk in n tent, dan na 3 dae terug gery plaas toe.
    Geniet jou stories!
    Cobie

    Like

Leave a comment