Ekke, tannie Memoiree, en oom Dicky.
Oom Dicky in sy Uri.
Ons twee in gesprek.
In 2007 jag ek en vriend Johan van Rooyen by oom Dicky en tannie Memoiree Strauss op hulle plaas Kiriis Wes, 80 kilometer oos van Keetmanshoop op die Aroab pad. Ons jagkamp is twee kilometer van hulle opstal af en bestaan uit netjiese tente opgeslaan op betonvloere. Die kombuis en kuierplek is ‘n permanente struktuur.
Oom Dicky is ‘n wonderlike gentleman en raconteur. My jagtery is nie so suksesvol nie, maar ek geniet oom Dicky se stories. Hy ry my orals rond in sy Uri-draadkar en gesels die koedoes uit die bos uit. Vriend Johan is ‘n skerpskutter en skiet sommer twee koedoes en ek kry ook uiteindelik ‘n gemsbok geskiet.
Eendag besluit oom Dicky om ons na ‘n “buurplaas” toe te vat want daar is meer bokke. Ons ry in sy bakkie, en ons ry en ons ry. Seker 100 kilometer grondpad, reg oos. (In Namibië is 100 kilometer seker ‘n geldige afstand vir ‘n “buurplaas.”) Die wêreld word wilder en wilder, en mooier en mooier. Ruwe rotskoppies, afgewissel met diep valleie en groot rotsformasies, streel die oog.
“Kom ek vertel jou van hierdie oom van my. Hy was ‘n legende, my ma se broer. Ernst, Ernst Luchtenstein.”
Oom Dicky begin vertel en ek luister:
“Man, hulle kom mos hier aan uit Duitsland, hy, my ma en hulle ma en pa. Nou ry hulle met die ossewa daar vanaf Luderitz, waar die skip geland het, ry hulle nou met die ossewa, maar jy weet daar is nie water daar nie. Hulle trek in die woestyn in en dan span hulle die osse uit en jaag hulle terug Luderitz toe om te gaan water drink, en jaag hulle weer terug na die wa toe en trek weer verder en so hou hulle aan tot hulle oor halfpad is en dan kan hulle die osse elke skoot by Aus gaan laat drink, in plaas van by Luderitz.
“Ja en toe hulle nou net daar in die woestyn is toe kom die Namas daar aan en beroof hulle, maar die volgende dag toe vang die Duitsers die Namas en gaan sit hulle in die tronk. My oupa, my ma se pa, het toe vir die Nama-kaptein elke kort kort ‘n bottel brandewyn daar in die tronk gevat, tot hy opgehang is of so iets. Ek dink sy naam was Simon Koper of so.”
Laat daardie aand ry ons, ek, oom Dicky en Johan terug vanaf die “buurplaas,” met twee dooie gemsbokke agterop. Arme oom Dicky se kop begin knik, maar ons kom veilig op Kiriis Wes aan.
Die volgende dag vra ek oom Dicky om my meer te vertel.
“Ja tag man, hy was ‘n anderste man, daai oom van my. In die oorlog toe vang hulle hom, maar hy ontsnap en gaan bly vir ‘n jaar of twee in die berge, tot na die oorlog, heeltemal alleen. In daardie tyd sien hy waar reën dit en waar nie, en na die oorlog toe koop hy daardie plase, en word baie ryk.”
Dit was die begin van ‘n baie lang verhaal, en van hierdie dagboek.
(Lees môre verder.)