Die wiele van ‘n ossewa draai om die as sonder die luukse van koeëllaers. Dit lei noodwendig tot erger slytasie. Daarom is gereelde smering van kritiese belang. Die standaard produk hiervoor was sogenaamde Stockholm teer, ‘n produk van gedistilleerde denneboomstompe. In die dae van die ossewa en van “Die Keiservoël oor Namaland” kon jy nie gou iemand Builders Warehouse of Midas toe stuur om ‘n nuwe vaatjie Stockholm teer te gaan koop nie. Voorrade is aangevul met diervet, veral seekoeivet.
Die Stockholm teer of vet of kombinasie is onder die ossewa gedra in wat bekend staan as die teerputs.
Hierdie vaatjie, of emmer het natuurlik baie vuil geword en het aanleiding gegee tot die gebruik van die woord “teerputs” om ‘n vuil mens te beskryf, soos ‘n lunsriem.
Die redakteur van my boek het my aangespreek oor my gebruik van die woord teerputs, in sy oorspronklike konteks, maar ek kan nie anders nie. Ek het besluit om die woord te behou.
Wat nog meer interessant is, is dat die spekvretervoëltjies, “chats” in Engels, orals agter hierdie ossewaens aangetrek het in die hoop dat hulle van die spek in die teerputs sou kon aas. Een van die temas in “Die Keiservoël oor Namaland” is juis die voëls van Namaland, met spesifieke verwysing na die rooiborslaksman, (keiservoël of Duitse vlag vir die Namas – Annerlike Afrikaans, Anton Prinsloo) die heuningwysertjies, skaapwagters en lewerike.
Ek gebruik die voëls as simbole van die land en om karakterontwikkeling te weerspieël, met ‘n verrassende ontknoping in die laaste paar paragrawe.
Tydens ‘n navorsingsreis vroeër het ek tussen Luderitz en Aus geleentheid gehad om foto’s van ‘n woestynspekvreter, die Trac Trac chat in Engels, te neem:
Lees môre verder hoe oom Dicky se storie my op die spoor van Ernst Luchtenstein laat loop het.