Dag 80: Tsauchab se wildevy: soos Afrikaans

Een van my lesers reageer op die nuus dat Namibië se skole terugkeer tot Afrikaans deur daarop te meld dat dit slegs tot by Graad 3 is en dat Afrikaans ‘n keusevak tot matriek is.  Dit het my aan die dink gesit. Ons het ‘n wonderlike twee dae by Tsauchab River Lodge deurgebring wat my baie tyd om te dink gegee het. Hierdie wonderlike plek van Johan en Nicky Steyn verdien ‘n volledige reisverslag, eintlik ‘n hele boekie, en ek sal later meer vertel, maar vandag moet ek fokus op Johan se mooi insig.

Tsauchab is teen die Namib Naukluft Park geleë. Johan en Nicky bied al die dienste wat ‘n besoeker mag nodig kry, selfs WiFi. Hulle koop toe ook terstond ‘n kopie van “Die Keiservoël Oor Namaland” wat die gesprek in die rigting van Afrikaans stuur. Hy weet dat Afrikaans in Suid Afrika bedreig word en antwoord laggend: “Alles wat verdruk word, groei mos net sterker.”

Die mooiste en lekkerste van Tsauchab is die kampplekke wat so netjies, groot en privaat is. Elke kampplek het sy eie badkamer en opwasgeriewe en die meeste het sommer op die koop toe  ekstra buitelugbad- en toiletgeriewe. Elke kamp het eintlik twee ekstra staanplekke sodat ‘n groot groep een kamp heel gerieflik kan deel.

Johan het party kampplekke se badkamers sommerso teen of half binne in ‘n wildevyboom gebou en op ‘n duur manier sy les geleer. ‘n Wildevy laat nie teen hom druk nie. As jy styf teen hom bou dan druk hy terug. Op die wyse het dit nou nodig geraak dat hy party van sy kampbadkamers elke drie jaar moet herbou, of ten minste gedeeltelik. Die wildevy groei en druk teen enige versperring in sy pad. So lig hy uiteindelik die teëls op en druk die deuurraam sommer skeef.

Hierin is die les vir Afrikaans uitgebeitel. As jy Afrikaans aanhou druk, sal hy ook terugdruk en vir hom ‘n pad oopkap. Dit maak nie saak of Afrikaans net tot graad 3 verpligtend is of wat ookal nie. Ons moet aanhou druk, stil, stadig, sterk en doelbewus.

Wildevy
Ons kampplek van die afgelope twee dae. Daardie geboutjie in die middel van die wildevy is die badkamer. Die wildevy druk die struktuur sodat die teels elke paar jaar vervang moet word.

 

IngridenJohan
Johan Steyn, eienaar van Tsauchab River Lodge, staan reg om te groet toe ons vanoggend daarvandaan vertrek. Johan sê enigiets wat onderdruk word, word net sterker, soos die wildevy en Afrikaans.

Ons reis het vanoggend in Windhoek ge-eindig. Hier het ek die geleentheid gehad het om Angela Hofmeyr van Namibia Book Market, http://www.namibiabooks.com bereikbaar by contact@namibniabooks.com , +264236938, Posbus 6870 Windhoek, Namibië, te ontmoet.

Namibia Book Market sal “Die Keiservoël Oor Namaland” dwarsoor Namibië beskikbaar stel. Skakel, e-pos of skryf dadelik om jou kopie te bekom.

Ek groet voorlopig met twee mooi foto’s wat ek by Tsauchab geneem het.

klipspringer
Ingrid se heel gunsteling dier het vir ons geknipoog.
_DSC0330
More-oggend vlieg ons terug SA toe. Die Kameel wag vir ons tot ons weer kom kuier. Ich liebe Südwest!

 

2 thoughts on “Dag 80: Tsauchab se wildevy: soos Afrikaans

  1. Baie dankie vir u baie interessante “blog” blad. Ek weet nie wie vaardig die “edikte van Windhoek” uit oor die gebruik van Afrikaans in skole, waarvan u praat nie. Ek lees nogal so n bietjie sarkasme in u stelling dat die “edikte” nog nie in die Suide uitgekom het nie.

    Die offisiele kommunikasie na onderwysstreke is baie meer effektief as wat u ooit mag droom. Besluite oor onderwys sake wat die kurrikulum aanbetref word hanteer deur die Nasionale Instituut vir Onderwys Ontwikkeling. Hierdie instituut het mense vanoor die hele land wat op hulle vak kommitees dien . So geen besluit word geneem wat nie onmiddelik die ore van die verteenwoordigers van onderwysstreke bereik nie.

    Ek werk in die Karasstreekskantoor van Onderwys en dien ook op een van die vak komitees by die Nasionale Instituut. Ek hoop u bron van inligting, is deel van die hartklop van onderwys in Namibie. U is welkom om my te kontak, as u die skakelpersoon, Mev. Leona Compion vir Afrikaans se kontakbesonderhede soek.

    Afrikaans le my ook na aan die hart, maar die dae waar almal in Afrikaans onderrig is, is nie meer realisties nie. Wees egter getroos, Afrikaans is n baie sterk taal in Namibie, vanaf die suide tot in die verste noorde van Namibie. Ons is baie trots op Afrikaans in hierdie land!!!

    Baie dankie.

    Maree Smit
    Streeks Skoolberader
    Karas Streek
    0811291043

    Like

    1. Geagte Mnr Smit U is reg. Ek het die gewraakte sinsnede verwyder want ‘n sensitiewe leser kan maklik daaraan ‘n verkeerde betekenis gee. Dit is die laaste ding wat ek wil doen, want ek het groot waardering vir die werk wat julle mense vir Afrikaans doen. Vriendelike groete. Koos Marais

      Like

Leave a comment