Dag 13: Afrikaans en “Die Keiservoël oor Namaland”

Afrikaans is onder druk. Tydens die skryf van die boek het ek besef dat die mense van Namibië “meer Afrikaans” as ons Suid Afrikaners is. Hulle praat ‘n mooier en suiwerder Afrikaans as die mense van Pretoria. Die Namibiese regering is ook nie so fel anti-Afrikaans soos sekere kringe in die ANC nie. Wat my veral getref het was die Afrikaans van die Namas.

NamaEen van oom Dicky se werkers. Hierdie Namas se Afrikaans het ‘n groot indruk op my gemaak.

Ek het uiteindelik die woordeboek, Annerlike Afrikaans, deur Anton Prinsloo bestudeer. Daarin dui hy die spesifieke kontrei waar sekere woorde gebesig word aan. Ek het gefokus op die Namibiese woorde en probeer om dit te gebruik, om geur en kleur te verleen aan die leefwêreld van die Namas.

Ek het die karakter Cornelius laat dink aan die florsies (flenterskoene) aan sy voete; ek het hom katels (wippe) laat stel; ek het Vogelsang en sy manne laat kaveer en kewel (stry en protesteer). Daar is nog baie ander voorbeelde, alles mooi woorde wat niemand ken nie. Al moes ek dit met voetnotas verklaar, kon ek nie die versoeking weerstaan om die woorde in te sluit nie. Daarmee wil ek erkenning gee aan die Namas se bydrae tot Afrikaans.

Die toestand van die Namas in Namibië vandag is nie goed nie. Mens kan redeneer dat hulle probleme begin het toe hulle hulle grond in 1883 en 1884 verloor het, soos beskryf in die boek, en in die oorlog van 1904-1908 vernietig is. Grootskaalse drankmisbruik, dwelms, werkloosheid en ongeletterheid is ‘n probleem. Máár die mense praat ons taal, ‘n ryk, mooi suiwer vorm daarvan. Rus daar nie een of ander plig op ons skouers om Afrikaans onder hulle te bevorder nie? Moet ons nie meer boeke oor hulle en hulle kultuur skryf nie?

Mens kan dieselfde van ander bevolkingsgroepe, ook in Suid Afrika sê, maar die Namas se primêre spreektaal is Afrikaans, en hulle is ‘n buitelandse groep. Dit maak hulle redelik uniek.

My mening word gedeel deur niemand anders as prof Hans du Plessis, van die PUK nie. Prof du Plessis het vir ses maande in Namibië navorsing oor hulle taalgebruik onder die Namas gedoen. Dit is hartseer dat baie van daardie navorsing vandag ongebruik in die NALN in Bloemfontein lê.