Dag 50: Scotty Smith in “Die Keiservoël Oor Namaland”

Scotty Smith is een van my “darlings” wat ek nie heeltemal kon “kill” in “Die Keiservoël Oor Namaland” nie. (Hierdie boek waaraan ek nou langer as agt jaar werk sal binnekort beskikbaar wees.) Nadat ek woes met die snoeiskêr tekere gegaan het, kon Scotty darem bly voortleef in twee kort, maar veelseggende sinne.

Gebore as George St Leger Gordon Lennox in 1845, die seun van ’n Skotse edelman na ’n nag se passie met een van die diensmeisies, kwalifiseer later as veearts, maar pas nie heeltemal in by die lewe van die koninklikes nie. Hy gaan eers Australië toe, toe Indië toe, en bevind hom uiteindelik in King Williams Town, net betyds vir die grensoorloë. Hy verkies om oorlog te maak eerder as om veearts te speel vir King Williams Town se boere.

Konvensies het nooit vir hom gewerk nie. Hy was iets tussen Robin Hood, James Bond, ons eie Andre Stander en Houdini, ’n struikrower, spioen, dubbelagent, perdedief, jagter, ivoorsmokkelaar, veroordeelde misdadiger en vrybuiter, en op die einde ’n min of meer respektabele inwoner van Upington, eggenoot van sy Afrikaanse vrou en pa van twee seuns en vyf dogters.

Voor, tydens en na die Anglo-Boere-oorlog tree hy as spioen op en verskaf hy inligting aan Lord Kitchener. Een keer stuur die lord hom op ’n sending, maar Scotty protesteer want sy perd is moeg. Kitchener sê “But take one of mine!” bedoelende een van die troepe se perde. Scotty stap by die tent uit en reg voor die tent staan Kitchener se eie manjifieke en beroemde perd, uitgedos met die blinkste saal en toom en “bling.” Hy spring op die perd en verdwyn oor die horison. By sy terugkeer het Kitchener nie ’n woord daaroor gerep nie.

Hy was ’n perdedief by uitnemendheid. Hy kon ’n mooi perd net nie uitlos nie. Een keer woon hy ’n vendusie op Kimberley by, met sy hoed laag oor sy oë getrek. Die afslaer nooi die omstanders uit om die perd uit te probeer. Scotty klim op die perd en jaag weg terwyl die afslaer en toeskouers oopmond toekyk.

Hy was ook ’n veedief en smokkelaar. Hy en sy bende het strooptogte diep in Betsjoeanaland uitgevoer en dan die vee oor die grens gedryf en in Upington en Vryburg gaan verkoop. Een keer vang ’n paar Boere hom en neem hom na Rooigrond in die Wes-Transvaal. Hy word verhoor en ter dood veroordeel, maar hy ontsnap in die nag en neem die twee beste perde en vlug ver weg.

Tydens sy strooptogte het die polisie dikwels Boesmanspoorsnyers agter hom aangestuur. Volgens hardnekkige gerugte het hy baie van hulle doodgeskiet en in die woestyn begrawe. Op een of ander wyse het hy laterjare vorendag gekom, op aanvraag van wetenskaplikes en navorsers, met baie Boesmanskelette, teen die prys van £5 vir ’n skedel en £15 vir ’n volledige geraamte.

Op sy terugreis vanaf die noorde van Betsjoeanaland, met ’n vrag vol ivoor, kom hy af op ’n polisiepatrollie wat gestuur is om hom te vang. Die beteuterde groepie se water is egter op en Scotty red hulle lewe. Hy begelei hulle inderdaad tot by hulle basis op Vryburg. Uit dankbaarheid doen die polisie die eerbare ding en laat vaar alle klagte teen hom.

Met die uitbreek van die Nama-oorlog stuur Scotty sy vennoot Hugo Friedmann na Windhoek met ’n aanbod: Hulle onderneem om teen ’n betaling van £200 000 die Namas te verslaan. Die Duitse regering wou egter nie ’n huursoldaatmag op hulle grond hê nie. Scotty besluit net daar om sy twyfelagtige lojaliteit te verander na dié van die Namas. Hy begin vir hulle wapens en ammunisie verskaf en dit is onder andere in hierdie hoedanigheid waarin my lesers hom in “Die Keiservoël Oor Namaland” ontmoet. Hy het ’n noue verbintenis met die Nama-held Jakob Morenga gehad, maar op een of ander wyse is Jakob se skuilplek verklap en hy doodgeskiet. ’n Mens kan maar net wonder of Scotty ’n rol gespeel het…

Jare later breek die Eerste Wêreldoorlog uit, die rebelle onder Manie Maritz vlug Duits-Suidwes-Afrika toe en generaal Louis Botha maak planne om DSWA binne te val. Weereens maak Scotty Smith ’n aanbod aan die Unie om vir Manie Maritz te gaan vang, teen betaling natuurlik. Ook hierdie aanbod word nie aanvaar nie, maar Scotty self verhoed per geleentheid dat generaal Louis Botha in die Duitsers se hande val.

Scotty was ook ’n weldoener van die armes. Een van die legendes wil dit hê dat ’n man teenoor ‘n vreemdeling (Scotty) gekla het oor geld en dat hy gesê het dat hy wens dat hy die berugte Scotty Smith kon vang en die prysgeld kon eis. Scotty het sy identiteit bekend gemaak en saam met die persoon na die polisiekantoor gegaan waar die geld uitbetaal is. Scotty het ’n paar uur later ontsnap.

Scotty is in 1919 oorlede en in Upington se begraafplaas begrawe as George St Leger Gordon Lennox.

Scotty-familie
Scotty Smith op gevorderde ouderdom saam met sy gesin.
Scotty-se-wa
Scotty Smith by sy waens en kamele tydens een of ander ekspedisie in die Kalahari
Advertisements

Dag 49: SA kry pak in die Volkebond as gevolg van die Bondelswarts

Abraham-Morris
Abraham Morris, leier van die Bondelswarts opstand, in die uniform van die Uniemagte tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Die vernietigende lugaanval op Guruchas op 29 Mei 1922 wat ongeveer 100 Bondelswarts sterftes tot gevolg gehad het, lei tot ’n kort artikel in die Londense Times van 30 Mei. Ander internasionale koerante volg op en Generaal Jan Smuts word in die Suid-Afrikaanse parlement gepeper met vrae, wat hy weier om te antwoord. Ook die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Londen Sir Edgar Walton loop deur, veral onder die aanslae van die Anti-Slawerny Vereniging se JH Harris. Laasgenoemde skryf briewe aan die New Statesman koerant, besoek Sir Walton persoonlik, en laat ’n vraag in die Britse parlement vra. Hulle is vasbeslote om nie toe te laat dat die saak onder die mat gevee word nie. Die Anti-Slawerny Vereniging dring aan op ’n bespreking van die voorval deur die Permanente Mandaatskommissie van die Volkebond.

Die kommunistiese koerant The International in Suid-Afrika skryf dat die skynheilige imperialiste altyd die heilige plig van kerstening sal versaak en met die wapen sal reageer wanneer die inheemse bevolking in opstand kom. Smuts besef dat hy in die moeilikheid is en stel ’n kommissie van ondersoek aan, hoofsaaklik om sy kritici stil te kry. Hy gaan sover om sy vriend, Gysbert Hofmeyr, administrateur van SWA wat die ekspedisie na Guruchas gelei het vooraf te waarsku.

Die Volkebond is in 1920 na die Eerste Wêreldoorlog gestig met die doel om oorloë te voorkom. Sy grootste mislukking sou natuurlik die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 wees, maar in Julie 1923 in Geneva, tydens die Bond se derde sitting word die Bondelswarts Affair breedvoerig bespreek in twaalf van die Kommissie se drie-en-dertig sessies.

Suid-Afrika loop kwaai deur onder die afgevaardigdes se tonge, maar ’n snaakse ding gebeur: Die debat verval in ’n meningsverskil oor die aard van kolonialisme teenoor die beginsel van ’n mandaatgebied. Gaandeweg kom die afgevaardigdes onder die besef dat die blanke inwoners van SWA volledig oortuig is van die noodsaak om die inboorlinge te onderdruk. Tydens die Vierde vergadering in September 1922 word SA weereens veroordeel, maar in Desember van dieselfde jaar, tydens die Vyfde vergadering, word ’n sagter resolusie aanvaar.

Van daar af het die druk op Suid-Afrika egter net al hoe sterker geword. Die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke Organisasie sou uiteindelik sorg dat Namibië onafhanklik word.

Wat is die betekenis van die Bondelswarts-opstand in die algemeen, en spesifiek in die konteks van hierdie dagboek, “blog,” oor die “Die Keiservoël Oor Namaland”?

Die Nama-oorlog het in 1904 in die gebied van die Bondelswarts begin toe die Duitse offisier luitenant Walther Jobst en die Bondelswarts leier Jan Christiaan doodgeskiet is. ’n Formele oorlogsverklaring deur Hendrik Witbooi sou eers in Oktober 1904 volg, maar die skade was reeds met die dood van Jobst en Christiaan gedoen. Tydens die oorlog sou Witbooi, Marengo en Fredericks sterf en Simon Koper na Betsjoeanaland vlug. Die enigste noemenswaardige vegtende leier wat sou oorbly was Abraham Morris, ’n dapper en vernuftige krygsman. Dit is hy wat teruggekeer het en die opstand aangevuur en gelei het. Hy kon nooit gedink het dat hy die magtige Unie sou oorwin nie, maar hy het nogtans geveg, net vir een ding-vir vryheid. Die Bondelswarts se grond is nooit deur Duitsland of die Unie van Suid-Afrika gekoop nie. Na die Eerste Wêreldoorlog is hulle grond eenvoudig by wyse van dekreet weggevat en daarmee is hulle lewenswyse vernietig.

Die vernietigende lugaanval en afbrand van Guruchas in 1922 was in my oë die ware einde van die Nama-oorlog, wat in 1904 begin het. Die gees van die laaste oorblyfsels van die Namas, die Bondelswarts, was finaal gebreek.

Dit is maklik in vandag se tyd om krities te wees, maar destyds was dit aanvaarbaar om so te dink oor die lewe. Selfs in die Volkebond is hierdie mening deur sommiges gehuldig. Die blankes was die oorwinnaars en daarom moes die “Hottentotte” soos hulle genoem is, hulle slawe of bediendes wees. Die idee van grondbesit vir die “Hottentotte” was belaglik.

Vandag is die blankes in Suid-Afrika op ’n manier die slagoffers van die mag van die meerderheid. Vandag is dit die blankes en Afrikaners veral wat voel hoe dit voel om hulle grond te verloor. Die ironie is juis dat vandag se nuwe grondeisers minder regte as die Khoi-Khoin daartoe het. Die Khoi-Khoin is die oorspronklike grondeienaars  van suidelike Afrika, nie die Xhosas of Zoeloes nie. Ek is oortuig daarvan dat hierdie argument uitgebuit moet word in die gronddebat.

Abraham Morris is ’n mindere karakter in “Die Keiservoël Oor Namaland” en ek noem die Bondelswarts Affêre slegs in die epiloog. ’n Volledige relaas daaroor sou ’n vervelige herhaling van die pyn en swaarkry van mense soos Ernst, Fredericks en die Herero’s wees. Morris was egter ’n dapper en slim held, ’n intelligente man. Selfs die man wat hom agtervolg en uiteindelik doodgeskiet het, kaptein Prinsloo, het so gesê. Om Morris se nalatenskap te ignoreer sou verkeerd wees.

Dag 48: 1922 se skandvlek op SA: Die einde van ’n kultuur.

Guruchas
Guruchas. Op 29 Mei 1922 het Suid-Afrikaanse bomwerpers hierdie nedersetting vernietig, ‘n voorval wat vir jare later nog opspraak sou verwek.

Die Bondelswarts-Namas het 1904-1908 se oorlog teen die Duitsers oorleef. Hulle was ook deel van 1914-1915 se veldtog van generaal Louis Botha wat die Duitse juk van hulle skouers afgeskud het. Tydens hierdie konflik werk Bondelswarts-leier Abraham Morris nou saam met kaptein Prinsloo van die Uniemagte. Hy, die kaptein, is ’n seun van ’n Boere-offisier wat in die Anglo-Boere-oorlog gesneuwel het en deur sy Britse opponente vereer is vir sy dapperheid. Prinsloo leer ken Morris as ’n dapper en eerbare man, “n man deur en deur.” Die Bondelswarts hoop dat hulle samewerking met die Uniemagte sou meebring dat sekere onregte van die Duitsers reggestel sou word, maar die teenoorgestelde het gebeur. Die Unie het eerder nog verdere laste op hulle gelê. Gaandeweg het dit duidelik geword dat die Unie van Suid-Afrika die Duitse filosofie gedeel het- hulle, die nasate van die Khoi-Khoin, die Namas, die oorspronklike grondbesitters van suidelike Afrika, was nou tweedeklas inwoners met mindere regte. Al waarvoor hulle goed genoeg geag was, was as arbeiders.

In Suid-Afrika was daar vroeg in 1922 soortgelyke ontevredenheid. Duisende verarmde Afrikaners en swartes moes ’n heenkome op die Witwatersrand se myne vind. Daar was hulle ook niks anders as goedkoop arbeid nie. Dit lei tot ontevredenheid, ’n staking, en geweld. Die onverbiddelike generaal Jan Smuts stuur sy masjiengewere en aanvalsvliegtuie om die stakers te verjaag en baie sterf. Dit is vreemd dat iemand wat gedurende die Anglo-Boere-oorlog eerstehands die wreedhede van Kitchener se verskroeide aarde en konsentrasiekampe beleef het, nou dieselfde soort wreedheid teenoor sy eie mense sou pleeg.

In April 1922 keer Abraham Morris terug na sy mense, die Bondelswarts van Guruchas in die verre suide van Suidwes-Afrika. Kaptein Prinsloo, nou hoof van die Miltêre polisie op Keetmanshoop  reis in opdrag van sy meerderes na Guruchas om Abraham Morris te vang, maar Abraham glip betyds oor die Garieprivier. Prinsloo volg hom en voer selfs ’n gesprek met hom. Hy waarsku Morris om nie na Guruchas terug te keer nie. ’n Paar dae later kruis Morris willens en wetens die rivier om permanent by sy mense aan te sluit. ’n Ander polisieman, ene van Niekerk gaan probeer om Morris te arresteer weens “onwettige immigrasie,” maar die oudstryder en sy troue volgelinge sit hulle teë.

Dit was nou die einde van Mei 1922 en die Bondelswarts onder leiding van Abraham Morris neem die wapen op. Daar was ongeveer 1200 weerbare manne met slegs ’n beraamde 200 gewere tussen hulle. Skaars 7 jaar tevore was hierdie einste Bondelswarts die ooggetuies van die reusagtige Uniemag, op een stadium 60 000 man, wat die Duitsers oorwin het. Hoe kon hulle ooit dink dat hulle enige kans teen die Unie sou staan? Sekere geskiedskrywers glo dat die Bondelswarts van die begin af geweet het dat hulle sou verloor, maar dat die rebellie ’n laaste, desperate en fatalistiese aksie van ’n klein groepie mense wat reeds alles verloor het, was. Hulle het slegs geveg ter wille van hulle trots.

In Windhoek besluit die administrateur, Gysbert Reitz Hofmeyr, ’n man met geen militêre ondervinding, om self die strafekspedisie te lei. Hy stel homself aan as kolonel, ’n stap wat later baie gekritiseer is. Die Uniemagte beweeg suid, per trein, tot by Kalkfontein, vandag se Karasburg. Een van die offisiere is ’n Windhoekse advokaat, CM (Toon) van den Heever, die latere beroemde digter en skrywer.

Op 29 en 30 Mei val die Uniemagte Guruchas aan. Dit is ’n slagting hoofsaaklik weens die twee bomwerpers, waarvan die een vlieënier ene Pierre van Ryneveld is. Die vliegtuie werp honderde bomme neer op die nedersetting Guruchas, waar baie vroue en kinders skuilhou. Die Unie-soldate steek al die hutte en geboue wat die bomaanvalle oorleef het aan die brand.

Meer as 100 Bondelswarts sterf en die meeste van die ander moes oorgee, maar Abraham Morris vlug met ongeveer driehonderd bittereinders die klowe en berge in. Hierdie wêreld is wild en onherbergsaam, selfs meer nog as die soortgelyke Richtersveld suid van die Garieprivier. Die vlugtende Bondelswarts het net een voordeel. Hulle ken die veld, geheime waterplekke en veldkos. Hulle word nou agtervolg deur die einste kaptein Prinsloo, hy wat so groot respek vir Abraham Morris, sy vyand, het. Die vliegtuie help baie want hulle verklap telkens Abraham en sy manne se beweging. Verskeie kere land die vlieëniers naby die agtervolgers om opdragte, kos en water te bring.

Na ’n paar verskriklike dae van hitte, koue, dors, honger, gevegte, vlug, agtervolg en pyn skiet Prinsloo Abraham op ’n lang afstand raak. Abraham, swaar gewond, laat sy manne sweer dat hulle hom self sou doodskiet, eerder as dat hy deur die Uniemagte gevange geneem sou word. Gelukkig beswyk Morris in die nag en sy verslae manne begrawe sy lyk onder ’n stapel klippe. Die volgende dag gee hulle hulleself ver van die graf af oor. Die Bondelswarts is finaal verslaan, maar Prinsloo besef dat hy nie sal rus voordat hy Morris se lyk gesien het nie. Hy neem twee gevange Bondelswarts en ’n paar uitgeruste soldate en gaan soek die graf. Hulle verwyder die klipstapel en sien dat dit werklik Morris is. Hulle pak die klippe netjies terug.

Later skryf Prinsloo in sy verslag dat geen voertuig nader as 30 myl aan die plek waar Morris begrawe is kan kom nie. Dit is hoogs waarskynlik dat Morris se graf vandag nog net so lê en dat daar nog nooit weer ’n mens was nie. Indien iemand wel weet waar die plek is, sal ek dit graag wil besoek.

Guruchas is vandag ’n verlate spikkel op die landkaart, suid van die M22 tussen Karasburg en Noordoewer en die Bondelswarts, soos die ander Namas, weet niks of baie min van hulle roemryke verlede. Die kultuur van die Khoi-Khoin, ook geminag deur die uiteindelike, huidige oorwinnaars, die Ovambos se SWAPO, kwyn.

Hierdie verhaal is verewig in James Ambrose Brown se roman, The Return.

Lees môre hoe die wêreld op hierdie treurige gebeure gereageer het.

Kaart_Guruchas
‘n Kaart uit Richard Freislich se “The Last Tribal War.” Dit dui die area van Abraham se laaste gevegte teen Kaptein Prinsloo en sy manne aan.