Dicky Strauss, seun van Charlotte Strauss, gebore Luchtenstein

Ekke, tannie Memoiree, en oom Dicky.Dicky1 Dicky2 Oom Dicky in sy Uri.  Dicky3Ons twee in gesprek.

In 2007 jag ek en vriend Johan van Rooyen by oom Dicky en tannie Memoiree Strauss op hulle plaas Kiriis Wes, 80 kilometer oos van Keetmanshoop op die Aroab pad. Ons jagkamp is twee kilometer van hulle opstal af en bestaan uit netjiese tente opgeslaan op betonvloere. Die kombuis en kuierplek is ‘n permanente struktuur.

Oom Dicky is ‘n wonderlike gentleman en raconteur. My jagtery is nie so suksesvol nie, maar ek geniet oom Dicky se stories. Hy ry my orals rond in sy Uri-draadkar en gesels die koedoes uit die bos uit. Vriend Johan is ‘n skerpskutter en skiet sommer twee koedoes en ek kry ook uiteindelik ‘n gemsbok geskiet.

Eendag besluit oom Dicky om ons na ‘n “buurplaas” toe te vat want daar is meer bokke. Ons ry in sy bakkie, en ons ry en ons ry. Seker 100 kilometer grondpad, reg oos. (In Namibië is 100 kilometer seker ‘n geldige afstand vir ‘n “buurplaas.”) Die wêreld word wilder en wilder, en mooier en mooier. Ruwe rotskoppies, afgewissel met diep valleie en groot rotsformasies, streel die oog.

“Kom ek vertel jou van hierdie oom van my. Hy was ‘n legende, my ma se broer. Ernst, Ernst Luchtenstein.”

Oom Dicky begin vertel en ek luister:

“Man, hulle kom mos hier aan uit Duitsland, hy, my ma en hulle ma en pa. Nou ry hulle met die ossewa daar vanaf Luderitz, waar die skip geland het, ry hulle nou met die ossewa, maar jy weet daar is nie water daar nie. Hulle trek in die woestyn in en dan span hulle die osse uit en jaag hulle terug Luderitz toe om te gaan water drink, en jaag hulle weer terug na die wa toe en trek weer verder en so hou hulle aan tot hulle oor halfpad is en dan kan hulle die osse elke skoot by Aus gaan laat drink, in plaas van by Luderitz.

“Ja en toe hulle nou net daar in die woestyn is toe kom die Namas daar aan en beroof hulle, maar die volgende dag toe vang die Duitsers die Namas en gaan sit hulle in die tronk. My oupa, my ma se pa, het toe vir die Nama-kaptein elke kort kort ‘n bottel brandewyn daar in die tronk gevat, tot hy opgehang is of so iets. Ek dink sy naam was Simon Koper of so.”

Laat daardie aand ry ons, ek, oom Dicky en Johan terug vanaf die “buurplaas,” met twee dooie gemsbokke agterop. Arme oom Dicky se kop begin knik, maar ons kom veilig op Kiriis Wes aan.

Die volgende dag vra ek oom Dicky om my meer te vertel.

“Ja tag man, hy was ‘n anderste man, daai oom van my. In die oorlog toe vang hulle hom, maar hy ontsnap en gaan bly vir ‘n jaar of twee in die berge, tot na die oorlog, heeltemal alleen. In daardie tyd sien hy waar reën dit en waar nie, en na die oorlog toe koop hy daardie plase, en word baie ryk.”

Dit was die begin van ‘n baie lang verhaal, en van hierdie dagboek.

(Lees môre verder.)

Advertisements

Die skryf van “Die Keiservoël oor Namaland”

Foto-1-Ukamas

In 2007 het ek op Kiriis Wes, (reg gespel), die plaas van wyle oom Dicky Strauss gaan jag. Kiriis Wes is tagtig kilometer oos van Keetmanshoop, op die pad na Aroab, Namibië.

Oom Dicky het my ‘n storie vertel wat my hele lewe verander het, omdat ek  daardie verhaal vir die wêreld op skrif gestel het. Die boek, “Die Keiservoël oor Namaland” verskyn voor die einde van die jaar.

Hierdie dagboek is die storie agter die storie. Dit is my verhaal van die meer as vyf en twintig skrywes en her-skrywes, die redigering, die reise na Namibië, Bethal en Kaapstad vir navorsing, die gesukkel met uitgewers, die mense, die landskap, die toeval, die noodlot, die teleurstellings, en uiteindelik die triomf.

Ek het meer as agt jaar hieraan gewerk. Ek het baie vriende in hierdie proses gemaak, en te veel van hulle reeds aan die dood afgestaan.

Ek nooi u uit om saam met my op reis te gaan deur Namaland. Kom sit saam met my om die virtuele kampvuur. Kom lees elke dag  die ongelooflike verhale van die vroeë geskiedenis van Namaland, en hoe Adolph Luderitz op “ietwat bedrieglike wyse” die Namas se grond bekom het, die Nama-oorlog van 1904-1908 (min of meer, soos u sal sien), van Ernst Luchtenstein, wat as kind in Duits Suidwes Afrika aangekom het, en die rykste man in Suidwes Afrika geword het.  Kom lees hoe ek die eerste weergawe van 150 000 moes snoei tot 100 000 woorde, hoe ek dus “my darlings moes kill.”

Ek wil vertel van die ontmoeting met my uitgewer, nadat hy die publikasie reeds goedgekeur het, en hoedat hy twee dae later dood is. En hoe ek weer voor moes begin om ‘n uitgewer te soek.

Ek wil vertel van //Khauxa!nas, ‘n vreemde plek wat nog deur min oë gesien is, van my besoek aan hierdie plek waar my verhaal eindig.

Ek wil u bekendstel aan die Namas se taal, en aan hulle dialek van Afrikaans. Ek wil vertel van die verskil tussen Khoi-khoi en Khoi-san, van die voëls van Namaland, van die Namas se kultuur.

Ek wil u bekendstel aan die ontstaan van die grootste onreg van die twintigste eeu, Duitsland se Jodeslagting, en hoe dit reeds op Haai-eiland in Luderitz begin het, lank voor die Tweede Wêreldoorlog.

Kom loer elke dag hier in om te lees van hierdie ongelooflike storie, Die Skryf van “Die Keiservoël oor Namaland.”